top of page

Eendracht Maakt Macht

Hierdie strategiese spel lei spelers deur die gebeure van die Anglo-Boere Oorlog. Spelers roep hulle eie kommando op, bou aan hul eie unieke vaardighede en word gelei om met ander saam te werk tot 'n gemeenskaplike doel.

So speel-speel reis die krygers deur die groot oorlog en help bou hulle aan die volk wat na die nederlaag weer sal opstaan. 

Oorsig

Spelers verkry opdragte vanaf 13 volksleiers om hul deel te doen tot die stryd vir vryheid en vir reg. Hulle ontmoet verskeie ander krygers,  kry die geleentheid om hulle saam op kommando te neem of om toerusting te verkry vir die versterking van die kommando se vaardighede. Mettertyd bou die speler sy kommando se vaardighede tot 'n spesialis eenheid in diens van die Boeresaak. Die opponent is die spel en die kalender wat nooit stilstaan nie. In hul strewe na oorwinning sal die spelers met verkeie onverwagse gebeure gekonfronteer word, soos die oprigting van 'n blokhuislinie of die gevreesde perdesiekte wat die Boere se taak bemoeilik het.

Die spel is 'n koöperatiewe spel en oorwinning of nederlaag word saam behaal teen die spel. Die doel is dus nie om die oorlog te wen of self die meeste heldedade te verrig nie, maar die maksimale akkumulasie van heldepunte vir die hele strydmag sodat die volk ryk sal wees aan stories om na die oorlog weer op te staan.

Spel verwagting

Die spel is geskik vir twee tot vier dapper krygers wat kan saam werk. Indien vier spelers die bordspel speel, kan hulle in twee kompeterende strydmagte verdeel vir addisionele wedywering oor wie eerste by hul einddoel uitkom.

Weens die veelvuldige meganika in die spel en leeswerk wat van spelers geverg word om hul uitdagings te verstaan, word die spel nie vir kinders onder 10 jaar sonder ouertoesig voorgestel nie. Omdat spelers egter moet saam werk, is dit slegs vir een speler verpligtend om te kan lees.
 
Daar is gevind dat die spel veral genotvol is wanneer veelvuldige geslagte saam werk. Jong penkoppe met hul skerp ogies kan vinnig die volgende bestemming op die kaart soek terwyl die grysaards op kommando hul familiestaaltjies uit die oorlog deel.

Om die Anglo-Boere oorlog in 'n bordspel saam te vat op 'n wyse wat die geskiedenis getrou weergee, 'n uitdaging bied en spanningsvol is verg tyd. Daarom word spelers gevra om die spel nie in minder as 90 minute te probeer afjaag nie. Die spel se lengte hang egter af van die strydmagte se besprekingstyd en die staaltjies wat tydens die spel gedeel word. Omdat die spel beperk is tot slegs hoogtepunte van die stryd, beloof dit om nie langer as die drie jarige oorlog te duur nie.

Wat maak dit anders

Eendracht Maakt Macht is 'n bordspel wat geskiedenis oordra. Dit is ontwerp om leersaam te wees vir spelers ongeag die vlak van kennis oor die basis onderwerp, naamlik die Anglo-Boereoorlog. Dit vleg die meganika van die spel en nuttige brokkies geskiedkundige inligting saam op 'n genotvolle wyse, maar dit gee ook 'n platform vir gesinne of vriende om saam na te dink oor die gebeure wat 'n volk help skep het.

Dit is 'n spel vir almal, vanaf Oupa wat sy swaargeskut "Die Geskiedenis van die Tweede Vryheidsoorlog in Suid-Afrika, 1899-1902" deur JH Breytenbach kan gaan afstof, vredeliewende Ouma met haar versteekte briewe en staaltjies van Emily Hobhouse, tot die jong manne wat vir die ringkoppe wys hoe om met die QR kode-skandering in die spel te vuur.

Dit is 'n uitdagende en spanningsvolle spel, maar bowenal is dit 'n spel wat samewerking aanmoedig en die spelers lei tot die besef dat wanneer daar vir 'n gemeenskaplike edele doel saam gewerk word, groot dinge vermag kan word.

bottom of page