top of page

Ons Storie

Gedurende die laaste aantal jare is drie kommerwekkende tendense waargeneem.

​

Die gebrek aan historiese akkuraatheid in die uitsprake van verskeie meningsvormers en leiers kom al hoe gereelder voor. Dit is nie 'n nuwe tendens nie aangesien diegene wat na mag bo alles hunker, hulself nog altyd aan die verdraaiing van feite skuldig gemaak het. Wat wel nuut tot ons kultuur is, is die skerp teenkanting teenoor enige debat oor die verlede asook die aanvaarding van growwe leeuns bloot omdat dit 'n agenda dien waarvoor ons nie teenkanting wil gee nie. 

​

Die tempo en vereistes wat van die moderne middelklas geverg word, het so toegeneem dat ons al hoe meer na vinnige oplossings tot ons kernverantwoordelikhede soek. Kinders se opvoeding en vermaak word uitgedelegeer aan slimskerms wat hul veilig tuis hou. Dié moderne Fluitspeler van Hamelin is egter spoedig besig om 'n generasie en ons toekoms na die afgrond te lei wanneer sy monotonige deuntjies luisteraars vir ure hipnoties wegvoer.

​

Laastens is 'n toenemend volkslose gevoel onder ons jeug te bespeur. Die fisiese en finansiële emmigrasie wat al vir baie van ons geliefdes 'n kans op gelukkiger toekoms gegee het, hoe hartseer dit ookal vir die oorblywendes mag wees, mag nie veroordeel word nie. Gevaarliker as die tradsionele emmigrasie, is diegene wat teenswoordig is in 'n gemeenskap, maar geen emosionele gebondenheid daartoe voel nie. Hulle glo vas aan die regte wat 'n staat aan hul belowe en wanneer daar tot die besef gekom word dat die aardse entiteit se beloftes gebrekkig is, raak hul opstandig teenoor die staat of gaan soek hul na beter beloftes. Tog vergeet baie hul verantwoordelikhede wat vanaf 'n Hoër orde kom. Hulle vergeet gerieflikheidhalwe hul gebondenheid aan hul naaste en pleeg so emosionele emmigrasie uit hul volk.

​

Die nadenke oor elk van die tendense laat dié wat hul volk liefhet dikwels met 'n gevoel van hulpeloosheid, asof ons verdwaal het in 'n diep donker woud en die winterkoue ons voortbestaan bedreig.

​

Wolfkraal is gebore in dié era en tydens dié tendense, nie omdat hy uit vrees hiervoor 'n versteekte kuil vir hom soek om homself in te grawe nie. Anders as ander in die diereryk, slaap wolwe nie die winter deur nie. Hulle stem trek die duidelikste in die oop koue wintersnagte en hulle bly veg wanneer die koue op sy skerpste is. Wolwe glo nie in sprokies nie en daarom sal hul nie hul identiteit daarvoor prysgee nie. Hulle soek net 'n veilige plek om hul welpies te leer wat dit beteken om 'n wolf te wees ter voorbereiding van hul groter roeping. 

​

By Wolfkraal word geglo dat die enigste roete tot die skepping van 'n ideale toekoms, wegspring met die eerlike omgang van die geskiedenis. Deur die verlede in al sy kompleksiteit op 'n nuwe en genotvolle manier aan sy kraal oor te dra, wil Wolfkraal aan sy volgelinge bewys dat die kraal genoeg ruimte laat vir die ontwikkelling van nuwe identiteite binne die kraal. Deur noue samewerking met mede kraalbouers glo ons dat ons mettertyd die skoner ideale sal herontdek waarvolgens ons die toekoms met hoop en ywer te gemoed kan gaan. Slegs dan kan ons bydra tot 'n standvastige Wolwekraal wat sy integrale deel in 'n groter, gesonde ekosisteem vervul.

bottom of page